Gaan na inhoud

Cairns

Cairns
Ligging van Cairns in Australië
Ligging van Cairns in Australië
Koördinate: 16°55′32″S 145°46′31″O / 16.92556°S 145.77528°O / -16.92556; 145.77528
StaatVlag van Australië Australië
Deelstaat Queensland
Stigting1876
Bevolking
 • Totaal150 920
TydsoneUTC+10 (AEST)

Cairns (Yidiny: Gimuy) is 'n streekstad en plaaslike raadsgebied wat in Queensland, Australië geleë is. Die eerste Europeërs het hul in 1876 daar gevestig. Die stad is na William Cairns, die destydse goewerneur van Queensland, vernoem. Dit is gevestig om myners op pad na die Hodgkinsonrivier-goudveld te ondersteun. Die nedersetting het agteruitgegaan nadat 'n makliker roete na Port Douglas ontdek is. Cairns se toekoms is egter verseker toe dit ontwikkel is as 'n spoorwegeindpunt en 'n hawe vir die uitvoer van suikerriet, goud, edelmetale en goedere geproduseer deur die landboubedrywighede in die omliggende plato- en kusgebied. Die stad brei steeds vinnig uit en het 'n bevolking van 122 731 (met ingang 2006). Dit is hoofsaaklik van die suiker- en toerismebedryf afhanklik.

Cairns is padlangs ongeveer 1 701 km van Brisbane geleë en ongeveer 2 420 km van Sydney. Dit is 'n gewilde reisbestemming vir buitelandse toeriste vanweë die tropiese klimaat en nabyheid aan vele besienswaardighede.

Die Groot Koraalrif is binne 'n uur se reis per boot vanaf Cairns. Die Daintree Nasionale Park en Cape Tribulation sowat 130 kilometer noord van Cairns is gewilde plekke om 'n tropiese reënwoud te gaan ervaar. Dit dien ook as 'n vertrekpunt vir mense wat Cooktown, die Cape York-skiereiland en die Athertonplato wil verken.

Die stad se natuurlike omgewing benut vir die skep van verskeie klein temaparke vir toeriste. Hieronder tel die Rainforestation-natuurpark, die Tjapukai-aboriginekultuurpark en die Kuranda Skyrailkabelspoor, wat sowat 7,5 km ver oor die wêrelderfenisreënwoud strek. 'n Ander groot trekpleister in Cairns is sy strandmeer.

Geografie

[wysig | wysig bron]

Cairns is geleë aan die ooskus van die Cape York-skiereiland op 'n kusstrook tussen die Koraalsee en die Groot Skeidingsgebergte. Die noordelike deel van die stad is by Trinitybaai geleë en die stadskern by die Trinityinham. Sommige van die stad se woonbuurte is op vrugbare vloedvlaktes geleë. Die Mulgrave- en die Barronrivier vloei deur die stadsgrense maar nie deur die stad self nie. Die strandgebied lê op 'n modderbank. Die hoogste berg in Queensland, Bartle Frere, is binne die stadsgrense geleë.

Uitleg van die stad

[wysig | wysig bron]
Die Sentrale sakekern van Cairns rondom 2005 soos gesien vanaf Mount Whitfield in 'n suidoostelike rigting. Sheridan Street, die hoofstraat loop suidoos-noordoos en word later die Captain Cook Highway wat gaan na Port Douglas. Die chemiese opgaartenks wat bo regs gesien kan word is in die voorstad van Portsmith geleë.

Cairns is 'n stad met 'n reglynige uitleg wat van die suide by Aloomba na die noorde in Ellis Beach loop.[1] Die stad beslaan ongeveer 52 km van noord na suid. Cairns het ook onlangs 'n skerp toename in voorstedelike ontwikkeling ervaar met baie woongebiede wat tans gebou is op grond wat voorheen vir die verbouing van suikerriet benut is.

Noemenswaardige streke van die stad is:

  • Die laagliggende noordelike strande wat bestaan uit 'n aantal strandgemeenskappe wat na die noorde van die kus uitstrek. Elke strandwoongebied is oor die algemeen geleë aan die einde van 'n vertakking van die Captain Cooksnelweg. Van noord na suid is hierdie woongebiede Machans Beach, Holloways Beach, ewarra Beach, Clifton Beach, Palm Cove en Ellis Beach.
  • Smithfield is 'n woongebied wat in die binneland geleë is, teenaan die berge van die Groot Skeidingsgebergte. Dit is die hoofkern van die noordelike strande. Dit is geleë tussen Yorkey's Knob en Trinitypark. Smithfield is die sentrale sakekern van die noordelike strande en bevat die groot SmithfieldWinkelkompleks. Die Kennedysnelweg begin by die kruising met die Captain Cooksnelweg, wat tans 'n groot verkeersirkel is.
  • In die binneland vanaf die noordelike strande langs die kant van die Barronrivier se vloedvlakte is die woonbuurte Caravonica, Lake Placid, Kamerunga, Stratford en Freshwater. Hierdie gebied word soms die Freshwater Valley genoem. Verder boontoe vanaf Freshwater Valley word Redlynch Valley aangetref. Redlynch woonbuurt is aan die westekant van die Redlynch Valley geleë en Brinsmead aan die oostekant. Stratford, Freshwater, Redlynch en Brinsmead word van Cairns geskei deur berg Whitfield (hoogte 365 m) en die Whitfieldbergreeks. Crystal Cascades en Copperlodedam is ook agter die bergreeks geleë.
  • Cairns se middestad is geleë op wat eens 'n moeras was en is naby aan die voorstede Cairns North, Manunda, Edge Hill, Whitfield, Kanimba, Parramatta Park, Mooroobool, Manoora, Portsmith, Earlville, Westcourt, Bungalow, Woree en Bayview Heights. Die klein voorstad Aeroglen is tussen Mount Whitfield en die lughawe aan die Captain Cooksnelweg noord van die sentrale sakesentrum geleë.
  • Suidelike Cairns, wat hoër en binne 'n bergagtige vallei geleë is, sluit die woonbuurte White Rock, Mount Sheridan, Bentley Park, Wrights Creek, Edmonton en Centenary Heights en hoër op die woonbuurte Babinda, Goldsborough, Little Mulgrave, Aloomba en Gordonvale. Die suidelike deel van Cairns is bewoon langs 'n smal strook tussen die Trinityinham in die ooste en die Lambbergreeks in die weste. Dit word bedien doer die Brucesnelweg. Daar word ook beplan om laasgenoemde uit te brei na 'n hoofroete tussen Woree en Grodonvale as gevolg van toenemende verkeer.
  • Die dorp Kuranda is stroomop aan die Barronrivier geleë, aan die westekant van die Kurandabergreeks, wat ook deel is van die Groot Skeidingsgebergte. Kuranda is in die plaaslike bestuurgebied Tablelands geleë en kan dus nie as deel van Cairns se voorstedelike gebiede nie beskou word; dit maak egter 'n belangrike deel uit van Cairns se ekonomie. Die Cairnsstadsraad het aangedui dat hulle daarin belangstel om die administrase van Kuranda en Port Douglas oor te neem.[2]

Geskiedenis

[wysig | wysig bron]

Cairns is geleë op die Australiese inboorlingstamme se Irukandji grondgebied.

Die plek waar Cairns vandag geleë is, is vir die eerste keer deur Kaptein James Cook in 1770 waargeneem en later verder verken deur verskeie amptelike verkenningstogte sowat 'n 100 jaar later waar die verdere potensiaal vir die ontwikkeling na 'n hawe besef is. Die goudstormloop op die plato in die weste, die sogenaamde tablelands, en die daarmee gepaardgaande behoefte om die goud uit te voer het die vestiging van Cairns in 1876 versnel. Die land waarop die nedersetting ontwikkel is het aanvanklik uit wortelboom begroeide moerasse bestaan. Die moeras is geleidelik deur arbeiders skoongemaak en sandbanke is neergelê en geleidelik opgevul met klip uit 'n steengroef by Edge Hill, droë modder, saagsels van verskeie saagmeulens en oorskot van die konstruksie van die spoorlyn vanaf Herberton op die Atherton plato, 'n projek wat in 1886 begin is. Die spoorlyn het die verbouing van grond in die laaglande moontlik gemaak. Suikerriet, mielies, rys, piesangs, pynappels, ander vrugte en melkboerdery op die plato is verbou. Die sukses van die plaaslike landbou het gehelp om Cairns as 'n hawestad in eie reg te vestig en in 1906 is 'n haweraad gestig wat die ekonomiese toekoms van die stad verseker het.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog is Cairns gebruik as 'n afspringplek vir die Geallieerdes se operasies in die Stille Oseaan.

Na die Tweede Wêreldoorlog het Cairns geleidelik 'n middelpunt vir toerisme geword. Die opening van die Cairns Internasionale Lughawe in 1984 en die bou van die Cairns Convention Centre het die stad se reputasie as 'n gesogte bestemming vir vakansiegangers en besigheidskonferensies gevestig.

Klimaat

[wysig | wysig bron]
Cairns – die tropiese stad soos gesien naby die strandmeer

Cairns het 'n warm tropiese klimaat. Daar kom 'n nat seisoen met tropiese moesonreëns tussen Desember en April voor en 'n droë seisoen tussen Mei en November, wat anders as in die res van tropiese Australië nie geheel en al droog is nie: daar kom gereeld buie in hierdie tydperk ook voor. Die gemiddelde reënval van Cairns is 1 993 mm per jaar.[3] Die dorpsgebied van Babinda aan die suidekant van die stad is een van Australië se natste dorpe met 'n jaarlikse reënval van meer as 4 200 mm per jaar. Die stad het warm vogtige somers met meer gematigde temperature in die winter. Die temperatuur wissel van 'n gemiddelde 25.7 °C in Julie tot 31.4 °C in Januarie. Moesonaktiwiteit tydens die nat seisoen veroorsaak af en toe grootskaalse vloeding van die Barron- en Musgrave-riviere wat pad- en spoortoegang na die stad afsny.

Klimaattabel
Jan Feb Mar Apr Mei Jun Jul Aug Sep Okt Nov Des Jaar
Gemiddelde daaglikse maksimum temperature (°C) 31.4 31.2 30.6 29.2 27.6 25.9 25.7 26.5 28.0 29.5 30.6 31.4 29.0
Gemiddelde daaglikse minimum temperature (°C) 23.7 23.7 23.0 21.6 19.9 17.8 17.0 17.4 18.6 20.6 22.3 23.4 20.8
Gemiddelde totale reënval (mm) 385.0 448.5 419.5 202.1 92.2 47.2 29.3 27.7 33.8 39.2 92.2 179.8 1994.8
Gemiddelde aantal reëndae 15.3 16.7 15.9 15.2 10.5 7.1 5.5 5.0 5.0 5.4 7.7 10.6 119.9
Gemiddelde aantal onbewolkte dae 3.8 2.6 4.0 5.0 6.7 8.7 9.9 11.6 12.4 11.8 7.9 5.6 90.0
Gemiddelde aantal bewolkte dae 16.1 17.3 16.3 14.0 12.5 10.3 9.8 7.5 5.6 5.3 7.5 11.7 133.9
Bron: Australiese Buro van Klimaatstudies

Ekonomie

[wysig | wysig bron]

Cairns dien as die hoof handelsentrum vir die verre noordelike Queensland en Cape York skiereiland streke. Dit is ook die setel van die streekskantore van vele regeringsdepartemente.

Toerisme

[wysig | wysig bron]

Toerisme speel 'n groot rol in Cairns se ekonomie. Volgens Tourism Australia is Cairns die vierde gewildste bestemming vir internasionale toeriste in Australië na Sydney, Melbourne en Brisbane.[4] Die stad val nie onder die top tien bestemmings van plaaslike toerisme nie, hoofsaaklik vanweë sy afstand vanaf groot stede, maar lok steeds 'n aantal plaaslike vakansiegangers.[5] Die stad se nabyheid aan die Groot Koraalrif en die nat tropiese dele van Queensland maak dit 'n gewilde bestemming. Die stad het honderde hotelle, vakansie-oorde, motelle en koshuise vir rugsakreisigers. Aktiwiteite in die streek sluit in gholf, stroomversnellingsvaarte, snorkel, duik en staptogte.

Nywerheid en landbou

[wysig | wysig bron]

Die grond rondom Cairns word steeds gebruik vir die verbouing van suikerriet. Hierdie plase word toenemend deur nuwe woonbuurte verdring soos die stad groei. Binne die stadsraad se grense word suikermeulens in Gordonvale en Babinda bedryf. Die Barron Gorge Hidro-elektriese Kragstasie is naby Kuranda geleë en voorsien in van die dorp se kragbehoeftes.

Handel

[wysig | wysig bron]

Plaaslike ondernemings in Cairns is tot en met 2007 deur die Cairns Region Economic Development Corporation[6] bygestaan wat die trosmodel vir ekonomiese ontwikkeling bevorder het.

Die voorstede van Cairns bevat 'n aantal winkelsentrums van verskeie groottes. Die grootste hiervan is die Cairns Central winkelsentrum en is naby aan die sentrale sakekern en Stockland Cairns geleë in die voorstad van Earlville.

Die stad ondergaan tans 'n oplewing wat die bou van baie nuwe hoë geboue tot gevolg gehad het. Die stad is vinnig besig om te ontwikkel in 'n groot ekonomiese kern, nie net vir toerisme nie maar ook vir dienste asook kantoorruimte wat in aanbou is waaronder die Cairns Corporate Tower #2 ook tel.

Media

[wysig | wysig bron]

The Cairns Post is 'n dagblad wat in die stad gepubliseer word; 'n weeklikse koerant, The Cairns Sun, word ook gepubliseer. The Courier-Mail is 'n Queensland wye dagblad wat vanaf Brisbane uitgegee word. The Australian word ook wyd versprei in Cairns.

Cairns Newspapers publiseer ook verskeie voorstedelike dorpskoerante – die Cairns Northern News en die Southern Herald – wat versprei word in die woonbuurte vanaf Palm Cove in die noorde tot by Gordonvale in die suide.

Cairns word bedien deur drie kommersiële televisie-uitsaaidienste en die twee openbare uitsaaiers – die ABC en SBS. Die kommersiële stasies is streeksfiliale van die Ten-, Nine- en Seven-netwerke. Austar Limited verskaf ook betaalkanale per satelliet.

Cairns se radiostasies sluit 'n aantal openbare, kommersiële en gemeenskapdienste in. Die ABC saai ABC Radio National, ABC Local, ABC Classic FM en die Triple J jeugnetwerk uit. Kommersiële dienste sluit in 4CA-FM, AM846, HOT FM, Sea-FM, 4CCR-FM, 87.6 XFM, 98.7FM, 101.9 Coast FM, en 104.3 4TAB sports radio.

Verwysings

[wysig | wysig bron]
  1. ↑ http://www.cairnsinfo.com/maps.php Geargiveer 29 Maart 2013 op Wayback Machine, Cairns Kaarte en streeksgids, CairnsInfo, 13 Februarie 2008
  2. ↑ http://www.cairnspost.com.au/article/2007/01/25/2183_news.html "Super Shire" - News.com.au
  3. ↑ http://www.bom.gov.au/climate/averages/tables/cw_031011.shtml Australiese Buro vir Meteorologie se webwerf
  4. ↑ "argiefkopie" (PDF). Geargiveer vanaf die oorspronklike (PDF) op 7 Maart 2008. Besoek op 12 Mei 2008.
  5. ↑ http://www.tourism.australia.com/Research.asp?lang=EN&sub=0361 Geargiveer 14 Oktober 2006 op Wayback Machine Navorsing en Statistiek oor toerisme in Cairns
  6. ↑ "CREDC". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 10 Mei 2008. Besoek op 12 Mei 2008.